Afrikaans - Waaroor gaan dit hier ?

Ek is 'n gelukkige, afgetrede Suid-Afrikaanse burger wat in die bevoorregte posisie is om gereeld deur ons mooi land te toer. Ek is nie 'n professionele joernalis nie, maar van my vorige reisjoernale is al in tydskrifte gepubliseer.

Ek beplan 'n opwindende toer in Oktober/November 2013. Die toer sal interessant wees vir baie Suid-Afrikaanse reisigers.  Die idee, in kort, is om al 72 Suid-Afrikaanse grensposte te besoek en die toer sowel as die grensposte se geskiedenis en ander inligting te publiseer. Ek het reeds die ondersteuning van een van Suid-Afrika se vooraanstaande reistydskrifte wat onderneem het om die inligting in een of ander vorm te publiseer. Die moontlikheid van 'n formele publikasie in boekvorm is ook nie uitgesluit nie.
Hierdie Blog sal dien as 'n intydse joernaal van die toer.

Die toer
Daar is 'n totaal van 72 grensposte in Suid-Afrika. Dit sluit grensposte per pad, sowel as lughawens en seehawens in. Tydens die toer sal al 72 grensposte besoek word en dit sal gedokumenteer word met foto's en inligting soos geskiedenis, beste gebruik, infrastruktuur, omgewing en ander interessante feite. Hierdie inligting sal van waarde wees vir alle toeriste in Suid-Afrika en spesifiek die toeriste wat gereeld buurlande besoek.

Die toer sal 6 tot 8 weke neem om te voltooi.

Formaat
Die amptelike toer sal bestaan uit twee persone met een voertuig. Ander voertuie mag by die toer aansluit maar vorm nie deel van die amptelike toer nie.