Afrikaans - Hoekom grensposte ?

Hierdie Blog gaan oor 'n reis na al Suid-Afrika se grensposte. Dit is 'n reis van ongeveer 12,000 kilometers wat die hele padkaart van Suid-Afrika dek.

Ek was nog altyd gefassineer met geografiese land- en padkaarte. Paaie en plekke se name wat ek op die kaarte sien sit my verbeelding op hol. Dan volg die drome en planne totdat ek daarheen kan reis.

Grensposte was nog altyd deel van die drome. Grensposname soos McCarthy's Rest, Platjan, Sani Pas, Zanzibar en vele ander het my belangstelling geprikkel en ek moes dit eenvoudig besoek.

Maar dan is daar ook die negatiewe deel van grensposte. Ek kry dikwels die idee dat die personeel doelbewus opgelei word om bot en onhulpvaardig te wees. Daar is nie gebruikersvriendelike aanwysings of hulp by grensposte nie. Reisigers moet maar self uitsnuffel watter vorms ingevul moet word en waar dit ingehandig moet word. En as jy in die verkeerde ry staan gaan niemand jou reghelp tot jy voor kom en dan weer na die agterkant van 'n ander ry stuur nie.

Is dit regtig so by al ons grensposte ?

Na my uittrede uit 'n vaste korporatiewe loopbaan was ek lus om iets unieks aan te pak. Een of ander reis wat my langer as 'n maand sal neem om te voltooi. Na so bietjie navorsing was dit duidelik dat daar nog nie so reis onderneem is in Suid-Afrika nie. Hierna het die droom 'n projek geword.