Tuesday 15 October 2013

Bray - goeie mense, maar slegte paaie


Van Makopong is dit so 100km Oos na Bray, die Kalahari 'hoofstad' op die grens met Botswana, teen die Molopo rivier. Hier is hartlike, goeie mense en baie interessante karakters. Dis ook in die omgewing waar Frik du Preez tot so 7 jaar gelede geboer het. En eenkeer 'n jaar, in Junie, is die 'Bray July' perde wedren 'n groot gebeurtenis.

Maar die mense van Bray het rede om baie ongelukkig te wees met hulle owerhede. Al die toegangspaaie is in 'n swak toestand. Ek dink nie 'n gewone sedan motor sal Bray kan bereik sonder om vas te sit in die Kalahari sand nie. Die paaie word eenvoudig net nie in stand gehou nie. Beloftes dat die teerpad van Tosca, wat 40km voor Bray eindig, tot in Bray verleng gaan word, begin nou al lank in die tand raak ...

Maar reisigers wat wel in Bray aankom, kan uitsien na goeie verblyf by die Tapama Lodge. Ons was gelukkig om op 'n Sateragaand hier oor te bly. Die omgewing se boere met hulle gesinne het van ver gekom. Daar was Curriebeker rugby op die 'big screen'. So nou en dan is die klank onderbreek om 'n Afrikaanse treffer video te speel. Die braaivleis vuur in die groot lapa word gestook van 'n groot stapel Kalahari doringboom hout. Die Blou Bulle verloor teen die Cheetahs en 'n paar van hulle ondersteuners gaan sit eerder buite en stry oor 'Ford of Cruiser' bakkies.

Gert en Annemarie van Rensburg is die eienaars van Tapama Lodge. Gert boer ook met beeste op 'n plaas so 100km buite Bray. Annemarie werk bedags in die hospitaal, maar die aand het sy ons 'T-bone steaks' voorberei terwyl Gert die kroeg beman het. Die netjiese chalets by Tapama Lodge is nie selfsorg nie. Die lodge bied  alle etes en naweke (volgens 'n kennisgewing bord) verander dit in 'n 'pub and grill'. Daar is ook kamp geriewe met 'n baie skoon en gerieflike ablusie blok. Welkome en uitstaande geriewe vir die wilde Kalahari.

Gert wys ons die artikel van Toast Coetser wat in die Weg van Julie 2008 verskyn het. Dit het gegaan oor 'n man wat hier in Tapama Lodge op sy kop gestaan het en 'n glas bier 'ge-down' het. Toast het dit blykbaar aanskou, so ek  glo dit ...


Die paaie na Bray is geskik vir die voertuie

Dit gaan jolig in Tapama Lodge se kroeg


Gert (eienaar Tapama Lodge) vertoon sy Capitec kaart vir die borge