Sunday 6 October 2013

Dag 6 (6 Okt) - besige Nakop

Na Onseepkans het ons met die N14 na Kakamas gery. Net buite Kakamas draai ons links af op die grondpad na Riemvasmaak. Vanaand kamp ons by Khamkirri, so 30km uit Kakamas oppad na Riemvasmaak.

Die ligging van die kampterrein aan die Noordekant van die Garieprivier is baie mooi. Ons is die enigste mense wat vanaand hier kamp. Daar is nog gaste van die chalets wat saam met ons kyk hoe die Springbokke verloor, ten spyte van 4 prag driee!

Op dag 6 ry ons grondpad via Lutzputs na die grenspos Nakop. Hierdie besige grenspos is op die N10 tussen Upington en Karasburg. Dit is veral vragmotors wat van die roete gebruik maak. Tydens ons besoek was daar 3 vragmotors vol nuwe motors oppad na Namibie. 

Ons gesels lekker met Danie Wagener, die senior beampte van Binnelandse Sake hier. Hy het jare se ondervinding op grensposte en ken veral die grensposte se geskiedenis van Sendelingsdrift tot by Tweerivieren. Hy, en meeste van die personeel hier, pendel elke dag die 130km van Upington en terug.

Nakop is een van SA se 24uur grensposte. Wat dit ook uniek maak is dat die Namibiese pos (Ariamsvlei) 17km verder is, nie bymekaar soos meeste grensposte nie.