Wednesday 16 October 2013

Skilpadshek - poort vir Suider-Afrika

In Namibie begin 'n grootpad, die B6, by Windhoek. Dit strek oos na Botswana waar dit as die A2, of eerder die Trans-Kalahari, bekend staan. By Lobatse verlaat die pad Botswana (Pioneer grenspos) en gaan Suid-Afrika binne by Skilpadshek. Hier begin ons N4 roete wat deur Pretoria tot by Komatipoort strek. Die roete gaan voort in Mosambiek as die EN4 tot by Maputo aan die Indiese Oseaan.

Dit is duidelik dat hierdie grenspos, Skilpadshek, potensieel een van die besigstes in Afrika kan wees. Maar dit is nog nie so nie hoofsaaklik as gevolg van konstruksie werk en verleggings aan Suid-Afrika se kant. Die grootste konstruksie blyk die nuwe tolhekke te wees wat skaars 100 meter van die grenspos aan die gang is.

Afgesien van die ontwrigtings staan hier lang rye vragmotors en wag om deur die grenspos te gaan. Meeste is oppad na Botswana (Gaberone), Namibie en Angola via die Trans Kalahari. 

Ons het ook deur die grenspos gegaan om dit eerstehands te ondervind en kon gelukkig verby die rye vragmotors beweeg. Die Suid-Afrikaanse kant is maar deurmekaar en die immigrasie aktiwiteite word in ouerige geboutjies afgehandel. Aan die Botswana kant is dit 'n groot moderne gebou wat al die aktiwiteite van die grenspos huisves.

Konstruksie werk by Skilpadshek waar die N4 begin