Friday 4 October 2013

Dag 3 - eerste grenspos per pad

Van Port Nolloth is dit maar 'n eentonige reguit teerpad tot by Alexanderbaai. Die pad is wel in 'n baie goeie toestand. Die grenspos is so 5km uit die Alexanderbaai, op die Garieprivier se oewer. Dit was stil daar en die vriendelike personeel het ons graag ontvang. 

Die plan was om vandaar aan SA se kant na Sendelingsdrift te ry. Maar nadat ons uitgevind het daar is 'n bruikbare pad aan Namibie se kant, besluit ons om eerder so te ry. Flink en effektief gaan ons deur die grenspos en oor die Ernest Oppenheimer brug. 

By Oranjemund (grenspos aan Namibie se kant) is dit nie so effektief nie. Hier moet alle inligting nog op papier vorms voorsien word. Dit is hier net so stil, en glo dit, geen inspeksies, oorgrens fooie, voertuig belasting of vesekering nie. Dalk 'n glipsie, of 'n 'loophole' ...
Die grondpad van Oranjemund na Sendelingsdrift is soos meeste grondpaaie in Namibie, in uitstekende toestand.  Ons ry die 90km in 'n japtrap al langs die Garieprivier tot by Sendelingsdrift. Hier gaan ons met die pont oor, terug na Suid-Afrika. Vanaand kamp ons in die Richtersveld nasionale park by Potjiespram kampterrein.