Saturday 12 October 2013

Kalahari se kuns

Vriende van ons het al lank gelede vertel van die besonderse hotel in die Kalahari: VanZylsrus Hotel. Ons het die grenspos toer se roete toe so getimmer dat ons die keer daar kon oorbly. Ek dink nie ons sal dit gou vergeet nie, en ons sal dit ook nie weer misry nie.

Wanneer jy die stof paaie van die Kalahari verlaat en die stof strate van VanZylsrus binnery, kan jy nie glo dat hier 'n klein oase kan wees nie. Die hotel se vooraansig verraai steeds niks nie en smelt amper saam met die ander geboue langsaan. Maar wanneer jy binnegaan weet jy dis 'n spesiale plek die. 

Albie en Petro Jonker het die hotel so 6 jaar gelede oorgeneem en radikaal verander. Petro se kuns talente is oral te sien in die vorm van ornamente, skilderye, versierings, meubels. Selfs die tuin vertoon haar fyn aanraking.

Die kroeg is 'n familie kroeg. Almal kom kuier hier en bring selfs hulle honde saam - mits dit niemand pla nie. 

Hannelie van Tonder is die plaaslike predikantsvrou. Sy bestuur die hotel en moet soms agter die kroeg inskuif voor sy Sondag weer die orrel in die kerk onder hande neem. 

Die kos was baie lekker. Hoe hulle die voorraad so goed en vars in VanZylsrus kry is hulle geheim.

Dit was Vrydagaand toe ons ook in die kroeg kuier. Die polisie hoof was daar met sy hond. Die bestuurder van die plaaslike kooperasie het die week se sweet en stof kom afspoel. Daar was nog ander mense ook, maar ek het tred verloor en mag dalk 'n paar name ook verkeerd gekry het. Die kroegman (was dit nou Willie of Johan) het my gepeper met 'n paar Turkish Delight 'shooters' ...

Kyk gerus na: www.vanzylsrushotel.co.za