Saturday 19 October 2013

Etali Safari Lodge - plek van 'n nuwe begin

Na die lekker kamp by Botsalano met sy basiese geriewe (sien een van vorige inskrywings) het ons oorgebly by 'n plek aan die ander kant van die spektrum: Etali Safari Lodge in die Madikwe Wildreservaat. 

Madikwe is 'n 75,000 hektaar, groot-5 wildreservaat  in die verre noord-westelike hoek van die Noordwes provinsie, teen die Botswana grens. Etali Safari Lodge is een van verskeie ultra-luukse lodges in die reservaat.

Hier word jy op die hande gedra en bederf van die oomblik wat jy daar aankom totdat jy weer vertrek. Alle etes is ingesluit by die tariewe en dis 5-ster etes van vroegoggend, dwarsdeur die dag tot die aand se ete in die boma langs 'n watergat. 

Etali se watergat is 'n wenner en ons het net so baie wild aktiwiteite hier gesien as op die 2-keer-per-dag wildritte (ook ingesluit). Die eerste oggend, net nadat ons terug gekeer het van 'n wildrit, het 2 leeus 'n blouwildebees ten aanskoue van meeste gaste en 3 witrenosters, langs die watergat vasgetrek. Later die aand, tydens aandete in die boma skaars 25 meter van die watergat, het 'n trop buffels kom water drink. Nadat die buffels weg is, het die 2 leeus wat steeds in die omgewing was ook kom water drink.

Etali beteken "place of new beginnings". Dit word vir meeste gaste bewaarheid.

Vir meer inligting kyk na: www.etalisafari.co.za