Monday 7 October 2013

Upington International - dag 7 (7 Okt)

Die lughawe fasiliteite by Upington is in 2009 opgeknap. Die uiteinde is 'n standaard wat moeilik geklop sal word. Dit is werklik wereldklas: smaakvol, mooi, netjies, skoon en op die oog af uiters effektief.

Immigrasie beheer by die lughawe word op 'n "call out" basis gedoen. Wanneer internasionale passasiers opdaag word die amptenare by Dept Binnelandse Sake in Upington uitgeroep om die nodige te kom doen. Die lughawe is so 8km uit die sentrale deel van Upington.

Gedurende weeksdae is daar daagliks 3 geskeduleerde vlugte van Johannesburg en 1 van Kaapstad. November maand begin die internasionale "vragseisoen". Ek het gedink dit het iets met landbouprodukte te doen, maar die vriendelike personeel vertel my dit is daaglikse geskeduleerde vlugte, hoofsaaklik van Duitsland, met nuwe motors wat hier getoets word.  

Upington se 4.9km aanloopbaan is een van die langstes in die wereld. Dit het tot gevolg gehad dat Upington geklassifiseer is as 'n alternatiewe landingsplek vir Nasa se ruimte pendeltuie.