Friday 11 October 2013

Gemsbok uit die Kgalagadi

By Twee Rivieren se 'one-stop shop' het ons Suid-Afrika verlaat en Botswana binne gegaan. Letterlik deur 5 meter oor die vloer te stap van die indrukwekkende gebou met beide lande se immigrasie dienste hier by Kgalagadi Nasionale Park. Ons het besluit om dit te doen om die minder bekende Gemsbok grenspos te ervaar.

Van Twee Rivieren ry ons so 60km suid op die grond pad aan Botswana se kant, paralel met die teerpad aan Suid-Afrika se kant. Die pad is goed met net so hier en daar 'n sagte sandkol.

Bokspits is die laaste dorpie net voor die Botswana grenspos met dieselfde naam. Botswana se immigrasie en polisie kantore bestaan uit 'n paar 'park home' karavane. Ons verlaat Botswana en ry die netjiese nuwe opset (2010 voltooi) van Suid-Afrika se Gemsbok grenspos binne. Alhoewel die enigste immigrasie amptenaar bietjie stram is om ons vrae te antwoord, kry ons 'n polisieman met baie kennis van die plaaslike omstandighede wat ons alte graag help.

Die grenspos funksioneer al sedert 1973 meestal vir bestaans boere van Botswana wat na beter markte in Suid-Afrika kom met hulle produkte. Sedert die ontstaan van die Kgalagadi Transfrontier Park is dit nou hoofsaaklik toeriste wat deur die grenspos gaan.

Molopo is 'n klein dorpie in Suid-Afrika so 5km van die grenspos. Askham is effe groter, so 20km verder Wes.